En die lang blonde man met die dringende oë, my vriend, tree terug in die skaduwee.
(By wyse van spreke.)
Die geluid is nie soseer dié van ’n deur nie as wat dit ’n klank-oomblik is, een van oorgang. ’n Grens. Ons is hier. Hy daar.
(By wyse van spreke.)
Die kunstenaar het die deur agter hom toe gemaak. Hy is alleen met sy gedagtes, sy werk, sy oordeel, sy geheime, sy stilte. Dis die stilte van Harpokrates; eertyds in Egipte, Horus, god van stilte. Die roos was sy simbool, ook een van liefde.
Hier, sub rosa, geld die veiligheid van geheimhouding, dié reël reeds lankal gevestig, van sê wat jy dink, wat jy voel. Vrye besinning. Vrylike verkenning. Uitdruklik onbeperk. Kreatiwiteit ontketen. Ander se toegang verbode.
En, soos in ou Christen-tye, is dit ruimte vir belydenis. In camera. Vertroulik. Incognito.
Bo, teen die latei, hang ’n enkele roos. ’n Baftablou roos.
Soos in die oorgelewerde Yaḥyá ibn Muḥammad van die 12de eeuse skrywer Ibn-al-Awam beskryf, is die blou roos dié teken van die eksotiese, van die Ooste, die onbereikbare.
(Eers in 2004 het Florigene, ’n Australiese biotegniese maatskappy, ’n egte blou roos geskep. Die haas onmoontlike reg gekry, die onhaalbare bereik.)
Blou is die kleur van die kunstenaar. Sy mooi/slim dogter. Sy gunsteling-pastelstaaf. Die kleur van die uiteindes op elke doek. Die skakering van sy geloof. Passie.
Die blou roos, by wyse van spreke, hang oor sy kop.
Die eindeloosheid van dié metafoor strek oor die werk wat Louis Jansen van Vuuren met hierdie tentoonstelling aanbied.
Die verstrengeling van die metafoor verduidelik ook die introspektiewe, al verklaar dit nie die geheime van sy kunstenaarshart nie.
Duskant daardie deur, sub rosa, is nie vir almal beskore nie.
Tog verstaan ons die geheime kameraadskap van kuns. Onder die roos is jy alleen, op jou eie. Onder die roos is jy beide verseker (van vertroulikheid) en ongeanker (op die eie aangewys).
Die lang man, die kunstenaar, in sy geheime verbond met homself, met sy vlyt, sy bedryf, sy eie opdrag, is onder die teken van die roos, van die blou roos.
Hy maak die deur op ’n skreef oop.
Nooi ons in.
Melvyn Minnaar
Januarie 2010
Bonjour Louis. Ek is so jammer dat ek jou uitstalling se opening misgeloop het. Ek was in die Kaap, het julle probeer kontak. Moes vroeër teruggaan. Het die webblad nou bekyk. Lyk wonderlik. Baie geluk. Jou kreatiwiteit (ook met die pen) bly 'n besieling. Mag jou muse altyd so smeul!
Magda Griesel (nou van Mosselbaai)