Resensie in Die Burger: Sandra Hanekom
2010-08-18

deur Cobus van Bosch

Sandra Hanekom: Sondeval
iArt Galery Wembley:‘n Projeksietuiste vir Kontemporere Kuns
Wembley Square, Tuine

Die gebrokenheid van die mens se bestaan teen die agtergrond van geestelike armoede en kerklike tirannie is ’n sentrale tema in hierdie nuwe reeks skilderye.

Hier skil Sandra Hanekom enersyds ’n paar appeltjies met ou tradisies en andersyds bring sy daaraan hulde.
Hoewel Hanekom spesifiek gemoeid is met die beklemmende invloed van streng kerklike dogma en voorskriftelikheid, en terselfdertyd geboei is deur Westerse visuele kuns se lang ver bintenis met die Christendom, is haar bykans fotorealistiese skilderye oop vir veel wyer ver tolking danksy enigmatiese komposisies van ’n uiteenlopende verskeidenheid van mense, diere en voorwerpe.

In ’n persverklaring noem Hane kom dat van haar skilderye beskou kan word as hedendaagse Bruegel-skilderye, en ’n mens vermoed sy het onder meer dalk Pieter Breugel die Ouere se ­beroemde Allegorie van die blindes (1568) in gedagte gehad.

In die Allegorie lei ’n groep blinde mans mekaar hulpeloos rond teen die agtergrond van ’n kerk, ’n toneel wat tegelyk die bedreiging van spirituele bankrotskap en die ewe verblindende gevaar van kerklike dogma versinnebeeld.

Hanekom se skilderye is egter veel meer gefragmenteer en “onsamehangend”, en in hierdie opsig is daar nogal heelwat aansluitings by die surrealistiese komposisies van Salvador Dali en, meer spesifiek, dié van die Middeleeuse skilder Jheronimus Bosch. Laasgenoemde was by uitstek ’n kunstenaar wat mense, diere, monsters en voorwerpe kon inspan as rekwisiete in simboliese en metaforiese vertellings.

Kleiner en stiller, maar met veel meer emosionele stemming en trefkrag, is ’n afsonderlike reeks intieme, amper miniatuur, portrette in potlood waarin Hanekom fokus op ’n aantal vroue wie se lewe en persoonlikheid in beide roem en tragedie gehul was.

Die fyn getekende portrette, wat bygewerk is met patrone en motiewe wat op die papier ­gebosseleer is, beeld wêreld bekende skrywers en aktrises uit soos Sylvia Plath, Vivian Leigh, Marilyn Monroe en Virginia Woolf, asook die Suid-Afrikaanse digter Ingrid Jonker.

Hierdie vroue was van uiteen lopende agtergronde en tydvakke, maar het breedweg gedeel in ’n kreatiewe lewensuitkyk, en on gelukkig ook die invloed wat die uitdagings van die lewe (onder meer ook die morele en kerklike voorskriftelikheid van die dag) kan hê op geestelike en emo sionele welstand.

Teen die agtergrond van die tema van die tentoonstelling, tref Hanekom se huldeblyk aan hierdie besondere vroue, wat elk, op hul eie manier, ’n “sondeval” beleef het (waarvan sommige dit nie oorleef het nie), die meeste.

Tot 28 Augustus.

Image: APPELTJIE TE SKIL… ‘n Gedeelte van Sondeval II deur Sandra Hanekom. Die uitstalling is tans te sien by iArt-galery,Wembley Square, Tuine.

read press release
view other work